Die verhaal van Lida …

Die verhaal van Lida (skuilnaam)
Die meisie wat saam met die maatskaplike werker voor die kantoordeur wag, lyk bang en onseker. Sy is baie jonk, 16 miskien. Die vrolike peuter op haar arm lag vriendelik en babbel ‘n onverstaanbare groet. Ek steek my arms uit en sy kom onmiddelllik na my toe, gereed om liefgehê te word.

Lida (18) en haar dogtertjie (18 maande) kom uit gesinsgeweld. Die pappa, rook dagga, drink en slaan die mamma. Sy vertel Gift (skuilnaam) het eers histeries gehuil as Pappa haar mamma slaan, maar nou kyk sy net gelate toe. Die maatskaplike werker waarsku dat Lida wegloop as dinge vir haar moeilik raak. Haar, sowel as die dogtertjie, se aanpassing verloop goed en ons glo dat sy hierdie keer ‘n tuiste gevind het. Sy drink die Evangelie in en ons sien haar geestelik groei en hoe sy rustiger raak. Op ‘n dag, kort voor Kersfees, is haar bed en haar kas egter leeg en Gift se vrolike laggie weerklink nie meer deur die huis nie. Die maatskaplike werker belowe om te kyk of sy haar kan opspoor en om seker te maak dat Gift versorg en veilig is. Die tyd stap aan en maande later stap ek een oggend die TV kamer binne en daar sit hulle, Lida en Gift! Gift het groot geword en Lida is duidelik swanger. Sy wou ‘n aborsie hê . . . Die volgende dag neem ons haar na ‘n privaat dokter om seker te maak sy en die baba is gesond. Langs die bed is ‘n foto van ‘n fetus, 12 weke oud. “Tannie, it’s a baby! Only three months! They never told me that it is already a baby then!” Sy huil, toe sy besef sy wou haar BABA doodmaak. Op ‘n dag gee sy haar hart vir die Here en sy nooi Jesus in haar lewe in as haar Saligmaker. Ons jubel en juig oor ‘n siel wat God se genadeoffer aanvaar het. Die swangerskap verloop normaal. Ons probeer haar leer wat in haar liggaam gebeur en toe sy die dag die baba op die sonar sien, lyk sy uiteindelik opgewonde oor die nuwe lewe. Soms is sy nie seker dat sy wel die baba wil hê nie. Ons verseker haar dat, as sy, nadat die baba gebore is, besluit dat sy nie kans sien om haar groot te maak nie, ons haar sal help om geskikte ouers vir die baba te kry, wat haar sal liefhê en grootmaak. Ons maak babaklere bymekaar en ons hou vir haar ‘n ooievaarstee. Sy is oorstelp en huil haar hart uit. Uiteindelik breek die groot dag aan. Op ‘n koue oggend in Julie ry ons Pelonomi toe. Ja, dis tyd, sê die dokter. Hulle besluit op ‘n keiser en na baie bid en mooipraat gee hulle toestemming dat ek in die teater mag wees. Ek hou haar hand vas, bemoedig haar en bid vir haar. Buite wag nog ondersteuning, al biddend. Na wat soos ‘n ewigheid voel, lig die dokter die bondeltjie mens uit haar mamma se maag en die narkotiseur sê: “It is a little girl!” Ek en Lida lag en huil deurmekaar. Hulle wys haar vinnig vir haar mamma en doen die nodige voor hulle haar in ‘n laken toedraai en in my arms sit . Ek lê haar langs haar mamma neer, wat liefderyk met haar praat en haar neus teen haar neusie vryf. Sy hoor niks van die pappa nie en ons kan sien dat sy brand om hom te vertel van sy pragtige dogtertjie. Na tien dae besluit sy om township toe te gaan en hom te vertel. Die baba en Gift bly by die shelter. Sy kom terug en kondig aan dat sy teruggaan na die pappa. Ons raadpleeg die maatskaplike werker en sy sê dat die kinders onder geen omstandighede mag teruggaan township toe nie. Lida is vasbeslote, sy gaan. Die kinders word deur die hof in veilige sorg geplaas vir 3 maande. Ons sonskynbaba het refluks en bietjie koliek en ons maak beurte om haar in die nag te versorg. Lida en pappa kom kuier gereeld vir die kinders en ‘n ouer man voel op sy hart dat hy die jongman moet leer van Jesus se liefde en die rol van ‘n man en ‘n pa in God se oë. Hy leer gretig en ons besef dat hy ook maar net nooit iemand gehad het om van te leer nie. Ons smeek die Here onophoudelik om Lida terug te bring, want Gift en die baba het haar nodig! Een oggend kom hulle my blinkoog by die motor haal – Lida het kom vra om “huis toe” te kom. Sy wil hê die pappa moet saam met haar daar kom bly, maar dit kan nie so gebeur nie, want hulle is nie getroud nie. Na baie praat en baie bid besluit hulle om te trou. Ons reël in ‘n dag die troue. Lida is ‘n pragtige bruid in ‘n regte, egte trourok en pappa lyk uitgevat in sy pak klere en blink swart skoene. ‘n Predikantvriend trou hulle in die klein Anglikaanse kerkie langs die shelter. Haar strooimeisies (vriendinne uit die shelter) dans en sing voor haar uit die kerk binne. Voor God beloof hulle trou aan mekaar en sluit hulle ‘n verbond met God. ‘n Vriendin maak hulle kamer by die shelter mooi vir hulle eerste nag as gesin en sonskynbaba slaap soos ‘n droom by haar mamma en pappa. Onder ons wakende oog leer hulle van getroud wees en ouers wees, soos God dit wil het. “And they lived happily ever after” – is ons gebed vir hulle. DIE DINGE WAT BY MENSE ONMOONTLIK IS, IS JUIS BY GOD MOONTLIK! (Luk 18:27) (Alle eer aan ons Hemelse Vader! Sonskynbaba is HIV NEGATIEF!)
Verhaal vervolg op ‘n ander dag …..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *